dorpers dorper
Afrikaans Engels Portugees Spaans Chinees Nederlands Duits
Charl Saunderson²
dorpers dorper
dorper
Untitled Document

DOELWITTE EN WAARDES:

Binne ons raamwerk vir die verbetering van die ras is die skaal en rasstandaarde ALTYD BAAS, selfs die mooiste dier met 'n ondergemiddelde groei indeks sal geprul word. Dit is dalk 'n baie harde benadering, maar ons glo dat die ras groter as die dier en die boer se korttermyn finansiele voordeel is. So 'n dier sal op die langtermyn die ras saboteur, asook die boer se langtermyn finansiele voordeel. Derhalwe respekteur ons die skaal se siening van die dier as finaal. Dieselfde geld ook vir 'n dier wat 'n baie hoe groei indeks het, maar prulfoute het, daar is die rasstandaard die BAAS en het die rasstandaard die finale se.

Mooi ooie wat sukkel om te lam of nie genoeg melk het nie, word geprul, die lam sal outomaties geprul word onder die groei indeks. Tweede kanse is net 'n geleentheid om swak genetika in die kudde en ras vas te le. Die swakheid sal op die een of ander stadium beslis sy opwagting maak. Hou altyd in gedagte dat ons diere verbeter en nie net vermeerder nie.

Ons teel ook nooit bo die voedingsvlak van ons plaas en streek nie. Ons gemiddelde jaarlikse reenval is 132 is millimeter, die diere wat ons teel moet dus binne hierdie droe omstandighede kan floreer.

dorper
Dit beteken bloot dat ons nie diere teel wat nie op die veld suksesvol kan wees nie. Dit is ons mening dat indien jy in 'n voerkraal of op aangeplante weidings wil boer, daar ander rasse is wat presies vir daardie doel geteel en ontwikkel is wat gebruik moet word. As dit u behoefte is is die Ille de France, Duitse Merino ens goeie opsies. Derhalwe selekteer ons diere wat met die beskikbare voeding kan oorleef, voortplant, groei en die lam goed kan grootmaak.

Ons verbeter dus die ras met ons kliente in gedagte. Ons kliente boer nie in voerkrale of op aangeplante weidings nie. VRUGBARE, AANGEPASTE, FUNKSIONELE EN DOELTREFFENDE DIERE, WAT AAN AL DIE RAS STANDAARDE VOLDOEN IS DIE OOGMERK.

DOELWITTE IS AS VOLG:

Hou in gedagte dat die stoet al sedert 1982 Dorpers verbeter, derhalwe is sommige van die doelwitte al baie goed vasgele en word dit nou met 'n progressiewe parings program bestuur, ander doelwitte is net gedeeltelik bereik en word dit met 'n korrektiewe parings program bestuur en verbeter. Dit is altyd moeilik om te se watter dier die mooiste is as jy nie vir jouself baie duidelike doelwitte en redes vir daardie doelwitte gestel het nie.

Mooi is vir ons nie net fenotipies nie, maar feno– en genotipies, indeks, aangepas, funksioneel en doeltreffend, opsommend mooi vorm en winsgewend. Die doelwit dier moet in die Boesmanland winsgewend kan wees, so byvoorbeeld sal groot altyd goed wees, maar te groot nie funksioneel of doeltreffend nie en daarom mooi maar nie goed nie. Wanneer is die dier te groot – bloot wanneer hy/sy eksta voeding nodig het om kondisie op die veld te hou, moeilik paar en moeilik lam, hierdie probleme vreet wins op en selfs die mooiste dier wat netto verliese produseer is bogemiddeld lelik.

Doelwitte is nie noodwendig in volgorde van belangrikheid nie.

  • Groei indeks – onthou die skaal is die baas, kry 'n goeie skaal (baas) en respekteer altyd sy uitspraak as finaal. Ons poog om nooit emosionele of sentimentele besluite te neem nie. Hoe langer jy streng is hoe minder word jy gekonfronteer met emosionele en korttermyn wins/langtermynverlies besluite. Ons het pas ook begin om proewe vir wurm/parasiet weerstandigheid te implimenteer en tyd sal leer watter rol dit in seleksie sal speel.

  • Vrugbaarheid en goeie moeders – Vrugbare moeders wat lammers goed groot maak in uiterse omstandighede ondersteun die groei indeks en winsgewindheid van boerdery.
  • Goeie hoogte – Ons hou van goeie hoogte op die been, nie te kort nie en ook nie te hoog nie, die boesmanland is wyd en diere moet ver loop vir weiding en water. Ons ervaring is dat diere met goeie beenlengte by ons beter kondisie op die veld hou. Moet nooit dat die diepte van die karkas vir jou 'n illusie van kort bene of 'n vlak karkas die illusie van lang bene skep nie. Vorm en balans is dus baie belangrik. Ponie tipe dorpers dra vleis en is mooi, maar kry swaar by ons, daarteenoor is kameelperde 'n ander uiterste.
  • Mooi vorm , gebalanseerd, funksioneel en doeltreffend – sterk koppe en bekke, die boesmanland het nie altyd sagte weiding nie en die diere moet harde en droe veld kan vreet om die skaal (baas) tevrede te hou. Sterk bene en hakke om beter te kan loop, 'n sterk toplyne en kruis met 'n netjiese ribsprong en korrekte blad aanhegting is vir ons belangrike kwaliteite.
  • Vetvespreiding moet reg wees, die verbruiker betaal 'n hoe prys vir ons produk en verdien goeie kwaliteit en waarde vir sy geld. Sonder die verbruiker het ons nie 'n besigheid nie. Ons selekteer vir diere wat effens aan die natter (vetter) kant is, want die skaal se hulle doen in gemiddelde jare beter, nie te vet nie, dan kon jy liewer met 'n vetstert tipe boer. Weereens belans is baie belangrik, ons bemark lammers teen gemiddeld 21 kg en dan wil ons A2 tot A3 gradasies behaal, wat ons ook kry, sien landbouweekblad berig onder toekenning hofie. Te vet sal gradering benadeel en jou verplig om lammers ligter te bemark, ons het die lam net een keer en wil dus die maksimum opbrengs per lam en per hektaar verkry.
  • Reproduksie – enige boerdery staan en val by hierdie punt, 'n ooi moet eers lam voordat die skaal enige iets kan se. Ons selekteer vir goeie en goed aangehegte uiers en goeie skrotum en testes. Ooie wat nie binne die derde suklus (ovilasie – dws 52 dae nadat ramme bygesit is) dragtig is nie word geprul. Ramme word gereeld vir vrugbaarheid getoets. Vermoe om natuurlik te paar en geboorte te skenk. Soms moet mens na ander rasse kyk en leer, na my mening sukkel 'n groot persentasie fries koeie (al vir die laaste 50 jaar) tydens die kalfproses, soveel so dat baie Fries boere kleiner bulle op jong verse gebruik. Hierdie benadering omseil na my mening 'n inherente probleem eerder as om dit op te los. Ooie wat sukkel om te lam word onmiddelik geprul en die lam ook, sou dit 'n tendens van 'n spesifike ram wees, word die ook geprul. Onthou die beginsel die ras is groter as die dier en die boer se korttermyn finansiele gewin. Volhoubare winsgewende boerdery is die doelwit.
  • Kleur het dalk niks met die skaal te doen nie, maar die diere moet beslis 'n lus vir die oog wees. Daarom selekteer ons vir mooi volledige en helder swart koppe.

  • Bedekking moet lig en los wees soos die rasstandaard vereis, weereens dit is mooi en prakties, met tussen min en geen onderhoud. Indien jy met wol wil boer, wel die merino is in daardie geval beslis 'n beter keuse.
  • 'n Gesonde kudde, die kudde word gereeld getoets vir Brusella Ovis en vrugbaarheid. Mismonsters word gereeld ontleed om doserings programme effektief te bestuur.(Deel van wurm weerstandige navorsing) Ons ervaring is dat gesonde diere optimaal produseer. Dit sou ook onregverdig wees om 'n dier se groei indeks te kritiseer as jy nie verantwoordelikheid vir sy gesondheid neem nie. Ons wil nie reaktief boer en eers doseer of ent as die simptome klaar daar is nie. Die neem van bloed, lewer en mismonsters plaas ons in die posisie om pro–aktief te kan handel.
  • Persoonlike ontwikkeling en die ontwikkeling van personeel is 'n baie belangrikke doelwit, nie ons of ons personeel mag 'n plafon veroorsaak, wat die groei en voortuitgang van die ras of ons boerdery mag strem nie. Ons glo die kudde sal verbeter in dieselfde mate wat ons kundigheid verbeter. Derhalwe maak ons gebruik van kundige mense, instansies en navorsers in elke vertakking van ons boerdery gebruik om ons te help in besluitnemings prosesse en ons op te lei. Foute word gemaak, erken, uit geleer en reggestel.
  • Goeie verhoudings met verskaffers, kliente en personeel is 'n doelwit waaraan daagliks gewerk moet word.

Op hoe meer doelwitte jy fokus hoe langer sal die proses wees, ons fokus dus op al ons doelwitte, maar met definitiewe prioriteite in gedagte.

Ons is in 'n harde wedloop met ons doelwitte en nooit met ander telers nie, bloot omdat telers se mikro doelwitte verskil, makro doelwitte is gekoppel aan rasstandaarde wat telers moet volg. Dit is bloot onmoontlik om resies te hardloop met iemand wat nie op dieselfe tyd in dieselfde rigting as jy hardloop nie. Vir die rede geniet ons die dorper bedryf en respekteur ons, ons mede telers geweldig. Hulle diere is vir ons so mooi, soms baie mooier as ons eie en dit motiveer ons om aan te hou doen wat ons doen. Ons glo dat baie boere ons veldtoestande en waardes deel en ons posisioneer ons so om hulle van goeie genetiese teel materiaal te voorsien.

Ons glo die dorper is die ras vir nou en die toekoms om die ekstensiewe vleisboer op die winspad te plaas en te hou. Statistieke onderskryf ons siening, ons moet egter doelbewus fokus om nie 'n vetstert tipe of Ille de France tipe skaap te teel wat ons 'n dorper noem nie. Die dorper telers genootskap beskik oor goeie, sterk leierskap en goed opgeleide inspekteurs wat die ras mooi op koers hou. Daar sal altyd 'n paar uiterstes getoets word, maar daarsonder sou ons nie die grense geken het nie en sou die ras nooit tot hier ontwikkel het nie. Wees dus versigtig om te vinnig te kritiseer voor die skaal nie gepraat het nie. Ons is oortuig dat die beste en volmaakte Dorper nog nie geteel is nie, ons hou dus aan om te verbeter en foute te korrigeer al is dit ons eie foute. Rasstandaarde is daar om die ras te vorm en te verbeter, rasstandaarde kan net verander om die ras te verbeter. Ons sal net uitvind hoe om die ras te verbeter as telers deur eksperimente bereid is om grense te toets. Hou in gedagte dat om die ras volhoubaar te verbeter besliste eksperimente soms nodig is. Die groot geheim is om 'n fout te identifiseer en te erken, geen fout kan gekorigeer word voordat dit nie erken is nie.

Ons is deel van die LNR se veeverbeterings program en gebruik Mobile Livestock, sagteware vir ons kuddebestuur. Dit is belangrik dat goeie diere nie ly onder swak bestuur, swak voeding, en swak gesondheid nie. Mobile Herd is vir ons 'n program wat bestuur en teling op 'n gebruikersvriendelike manier doen. Ons poog dus na uiterste goeie kudde–, weiding–, gesondheid– en voedingbestuur om wins te optimaliseer in ekstensiewe omstandighede.

Ons sal u raad so waardeer, en saad en/of embrio’s van dorpers wat jakkalse kan vang sal altyd welkom wees. 


dorpers, dorper